|
Sedert my aansluiting as lid by die BBSG het die
kwaliteit asook produksie van ons kudde reuse spronge gegee. Die
eienskappe van die Bovelderras is fenominaal. Dis n mediumraambees,
wat regoor die land goed aanpas en op die veld asook in die
voerkraal presteer.
Die vrugbaarheid is ongeken. Ons paar ons verse op
13-15 mde (+-300kg) ouderdom. Verse kalf op 24 mde en mag dan nooit
weer oorslaan nie. Ons dekseisoen is van 1 Des tot 28 Feb. Geen koei
word gepaar as daar nie n kalf langs haar loop nie. Of die kalf in
n erdvarkgat geval het, gesteel is of net gevrek het - die koei
word geprul.
In 2016 het ons die Molopo Boveldergroep saam met
Joubert Swanepoel en William Harvey begin. Vanjaar (2024) het ons
ons eerste Elite Speenkalfveiling in Mei gehou. Ons het ook vanjaar
ons 2de produksieveiling in Aug in Vryburg aangebied. Paul van
Niekerk en Jaco Maritz van Memel hou saam ons veiling en verseker
dat top kwaliteit na ons area kom.
Die afgelope 15 jaar is ons kudde geseλnd met n
besettingsyfer van bo 90%. Die kudde is op n gemiddelde TKP van 371
dae, en n koei/kalfverhouding van 47% met speen. Ons kudde weeg
gemiddeld 520kg teen speentyd (Mei) en dis van eerstekalfkoei tot
die oudste koei. Ons drakrag op natuurlike weiding is 7,5ha/GVE. Ons
maak gebruik van enkelparing (1 bul = 32 koeie), sodat aanvullende
parings (regte Taurus/Sanga samestelling) asook korrektiewe parings
(om eienskappe te verbeter) gedoen kan word. Gereelde kuddeklas en
prestasietoetsing word op alle diere gedoen.
Leoma volg n helfte wei & helfte rus weidingstelsel,
waar die helfte van die plaas vanaf 1 Feb tot 15 Julie gespaar word.
Die dragtige koeie wat vanaf Sep begin kalf word dan vanaf 15 Julie
in een van daardie spaarkampe gesit, en teen Okt met haar kalf in
die laaste spaarkamp gejaag. Sodoende is dit baie makliker en
finansieel baie goedkoper om n dragtige koei se kondisietelling by
n 3.5 punt te kry voor kalwing en kan sy +-100 dae voor paring
(Des) begin om genoeg goeie eierselle te ontwikkel.
Wintermaande gee ons n baie goeie winterlek,
bestaande uit Bovelderkonsentraat en sout. En in die somermaande
gebruik ons n P7 fosfaatlek, wat ons self meng.
Die beesbedryf is onder baie druk. Dis ons plig as
boere in Suid-Afrika om toe te sien dat geen boer sy plaas verloor
of verlaat a.g.v. verkeerde besluite of verkeerde bestuurspraktyke
nie. Ek wil boere aanmoedig om by n boerevereniging, n
studiegroep, of by buurmanne kers op te steek en positiewe en
opbouende insette te lewer. Partykeer is dit baie goed om n
probleem net van n ander hoek af te bekyk. Hou jou boerdery
eenvoudig, en dra jou passie oor na die volgende geslag.
Lekker Boer! |